Dan Roodt, ‘n lewe wat die moeite werd is

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leon Lemmer:

‘n Mens kan nie kies of jy deel van die werklikheid wil word nie. Dit is ander mense se gedrag wat veroorsaak dat jy gebore word. Iedere mens lewe vir ‘n beperkte tyd. So ‘n leeftyd is gewoonlik heelwat korter as ‘n honderd jaar. Sover bekend kom geen mens na sy dood ooit terug nie. Ongevraagd kry jy ‘n enkele lewe. Jy is veronderstel om daarvan ‘n sukses te maak omdat geen lewe ‘n kleedrepetisie vir nog ‘n lewe is nie. Party mense slaag daarin om in ‘n kort lewe baie te vermag. Ander lewe lank maar bring weinig tot stand. Van deurslaggewende belang is die soort opbrengs wat ‘n lewe lewer. Enersyds hang dit van die gehalte van ‘n individu se denke en handeling af. Andersyds word die waarde van ‘n persoon se bydrae bepaal deur wat in daardie omgewing en tydvak nodig was.

Na sy skoolloopbaan het Dan Roodt hom akademies tot op die hoogste vlak bekwaam deur ‘n doktorgraad te verwerf. Maar daar is verskillende maniere om by die top uit te kom. Een van die maklike maniere is om modegiere onkrities na te jaag. Nog ‘n benadering wat min oorspronklikheid verg, is om jou tot akademiese dissipelskap te verbind deur iemand, bv een van jou leermeesters, slaafs na te volg. Albei hierdie maniere van doen is kenmerkend van die epigoon; nie van die kreatiewe gees nie. Veral in jou jeug behoort jy kennis van soveel moontlik uiteenlopende geestesstrominge te neem. Terselfdertyd moet jy daarteen waak om deur een of meer van hulle meegesleur te word. Deur jou onafhanklikheid sover moontlik te behou, kristalliseer daar mettertyd ‘n eie standpunt. Jou diepste self kan in harmonie daarmee leef omdat jou oortuigings oor tyd in jou gegroei het en nie van buite aan jou opgedring of aangeplak is nie. Dít is eintlik ‘n kortbegrip van akademiese vryheid; iets wat ‘n uiters skaars hulpbron in die hedendaagse samelewing geword het.

Daar word dikwels beweer dat die ouderdom, in die sin van bejaardheid, wysheid bring. Met die verloop van jare sal daar veranderings in jou standpunt kom, want ‘n mens behoort oop vir beïnvloeding te bly. Maar hierdie verstellings sal langsamer plaasvind en eerder evolusionêr as revolusionêr wees. Die algemene tendens is skynbaar dat hoe ouer ‘n mens word, hoe meer konserwatief neig jy. Dit is asof die jare waardeur jy geleef het ‘n kumulatiewe effek het en dus ‘n al hoe groter houvas op jou kry. Die verlede speel ‘n al hoe groter rol namate ‘n mens ouer word omdat die jare wat vir leef oorbly al hoe minder word. Instinktief is jy geneig om eerder terug as vorentoe te kyk. Nostalgie word om ‘n goeie rede gekoester. As bejaarde word jou gedagtes al hoe meer bevolk met dooie mense wat jy eens geken het. Die swaartepunt in jou gees skuif al hoe meer van die lewendes na die dooies. Uiteindelik hou jou gedagtes met jou dood op en word jy, waarskynlik vir ‘n baie kort tyd, in die gedagtes van ‘n beperkte aantal mense onthou.

Na jou dood kan ‘n mens as meer as bloot ‘n kortstondige herinnering voortleef. Dit is wat ‘n mens kan regkry as jy iets konkreets geskep het. Die skilder is dood maar sy skilderye dien as konkrete bewys dat hy eens gelewe het en wat hy in sy beperkte tyd geskep het. ‘n Argitek kan ‘n kolossale kunswerk tot stand bring. Maar mot en roes vernietig uiteindelik die skilder en die argitek se skeppings. Daar is ‘n permanenter manier waarop geskep kan word: deur idees in skrif uit te druk. As wat jy dink die moeite werd is en dokumentêr gekonkretiseer is, kan jou idees in jou taal of as vertaalde teks eeue lank sirkuleer en invloed bly uitoefen.

Dan Roodt het as jong man in ander instansies se tydskrifte gepubliseer en mettertyd ook in sy eie publikasies. Hierin is hy van vroeg af bekwaam deur Karin, sy vrou, bygestaan. Deur eie publikasies tot stand te bring, het hy ‘n platform nie net vir die verspreiding van sy eie idees geskep nie, maar ook vir dié van ander mense. Kenmerkend van Dan se benadering is sy weersin in sensuur. Dwaalleer kan met argumente aan bande gelê word. Geestelike verval, soos die verering van terroriste as moreel voortreflike ikone, kan met kritiese kommentaar bestry word. Woorde en sinne kan op verskillende maniere in so ‘n stryd benut word. In Dan se geval word sy idees sistematies in maklik verstaanbare woorde in klokhelder, vloeiende prosa uitgedruk. Dit maak hom invloedryk maar voed terselfdertyd die gramskap van sy teenstanders.

In sekere opsigte moet ‘n mens saam met die tyd beweeg. In die hoofstroom-inligtingsmedia is die kanale vir die uitdrukking van minder gewilde idees toegestop. Elektroniese uitsaaimedia bied deesdae geleenthede vir die verspreiding van idees in ‘n kits dwarsoor die aardbol. As dit nie was vir Dan se Praag nie, sou Afrikaners se konserwatiewe, behoudende menings heelwat minder prominent gewees het. Sonder Praag sou pleidooie vir bv die behoud van Afrikaans en die voortbestaan van die Afrikanerdom minder bekend gewees het. As onafhanklike denker en kreatiewe gees weerspreek Dan in woord en daad die stereotipe beeld van ‘n Wits-produk. Myns insiens doen hy die regte ding op die regte tyd. Daarvoor behoort Dan vorentoe meer erkenning te ontvang. My beste wense vergesel hom in die res van sy loopbaan.

Leon Lemmer: Dan Roodt, ‘n lewe wat die moeite werd is

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail